IndexSoekRegistreerTeken in

Share
 

 TELKOM HARDLOOP UIT HOOFBESTUURDERS UIT

Go down 
SkrywerBoodskap
KVB000000002
Admin
KVB000000002

Aantal posstukke : 1253
Join date : 2010-02-07

TELKOM HARDLOOP UIT HOOFBESTUURDERS UIT Empty
PosOnderwerp: TELKOM HARDLOOP UIT HOOFBESTUURDERS UIT   TELKOM HARDLOOP UIT HOOFBESTUURDERS UIT EmptySun Jul 18, 2010 10:55 am


Telkom ontken uittog skep 'n vakuum
Jul 18 2010 01:00 Ryk van Niekerk en Cecile Nel

Johannesburg. - Telkom het ontken hy beleef ’n ­leierskapkrisis ten spyte daarvan dat hy steeds wag op ’n verslag van die ouditeursgroep KPMG wat ’n twis ondersoek tussen mnre. Jeff Molobela, voorsitter, en Reuben September, uitvoerende hoof, wat pas bedank het.

Telkom is vandeesweek ook geskud toe mnr. Peter Nelson, finansiële hoof, bedank het ná gissings dat hy nie meer die inmenging deur Molobela kon hanteer nie.

Die groep se aandeelprys het Vrydag op R33,50 gesluit, na aan sy jaarlaagtepunt van R30,99. Die groep se markwaarde staan op sowat R17,4 miljard.

Telkom het gister in ’n e-pos in antwoord op navrae van Sake24 ontken dat daar ’n leierskap­vakuum is en dat daar enige inmeng­ing deur die direksie was.

“Die stellings dat die regering by besluite ingemeng het, wat kon lei tot Reuben September se uittrede en Peter Nelson se bedanking, is duidelik onakkuraat,” lui die e-pos.

Telkom het egter bevestig dat KPMG met ’n ondersoek na die beweerde twis tussen September en Molobela besig is.

Die ondersoek is nog nie afgehandel nie.

Verskeie huidige en voormalige Telkom-werknemers het egter vandeesweek voet by stuk gehou dat die bedanking of uittrede van vier van die sewe lede van Telkom se uitvoerende bestuur volg op inmenging deur Molobela op bedryfsvlak.

Dié bestuurslede sluit September, Nelson, en mnre. Naas Fourie, hoof van strategie, en Thami Msimango, hoof van buitelandse bedrywighede, in.

Daar is nou net twee permanente lede in Telkom se uitvoerende bestuur.

Molobela was nie vandeesweek vir ’n onderhoud beskikbaar nie en hy het ook nie oproepe na sy selfoon beantwoord nie.

September wou ook nie met die media praat nie.

Ontleders het in reaksie gesê die leierskapkrisis sal voortduur totdat die regering, wat ’n belang van byna 40% in Telkom hou, se spesiale regte ingevolge sy aandeel­houersooreenkoms in Maart aanstaande jaar verval.

Dié regte geld reeds sedert Telkom se notering in 2003.

Ingevolge die regte het die regering die finale sê oor die strategiese rigting wat die maatskappy inslaan en belangrike aanstellings.

Wanneer dit verval, sal Telkom volledig onderhewig wees aan die reëls van die JSE.

Mnr. Mark Ansley, ontleder by Cadiz Batebestuur, het in reaksie gesê die Telkom-direksie het geskeur tussen lede met bloot ekonomiese belange en dié wat ook maatskaplike en nasionale belange probeer beskerm.

Hy verwys na die lede wat deur die regering aangestel is wat moontlik verhoudinge met ander Afrika-lande wil behou deur byvoorbeeld eerder Telkom se Nigeriese onderneming, Multi-Links, en poste te beskerm as om koste te besnoei.

“Dit skep ’n magdom uitdagings en konflik op direksievlak,” het Ansley gesê.

’n Ander ontleder, wat verkies om anoniem te bly, het gesê Telkom het al jare lank ’n leierskap- en ­direksiekrisis.

“Die struktuur van die direksie is nie noodwendig gunstig vir kleiner aandeelhouers nie.”

Volgens hom is die omset van Telkom se ­bestuur al jare lank hoog en veroorsaak dit voortgesette probleme op bestuursvlak.

Nóg ’n ontleder wat verkies om anoniem te bly, verduidelik dat Telkom se leierskapprobleme waarskynlik nie sal verdwyn solank as wat die regering sy spesiale stemregte het nie.

Die Communication Workers’ Union (CWU) sê dit is uiters teleurstellend om te sien wat by Telkom ontvou.

“Die CWU het ook opgemerk dat die direksie nie noodwendig strategiese leierskap aan dié staatsinstelling verskaf nie.

“Die direksie het toegelaat dat die entiteit in ’n krisistoestand verval weens die vakuum in topbestuur en die binnegevegte tussen die voorsitter en die vorige uitvoerende hoof,” het die vakbond in ’n verklaring gesê.

Telkom het reeds vir mnr. Jeffrey Hedberg, voormalige hoof van CellC, aangestel om in September se pos waar te neem.

Telkom sê hy soek nog na ’n voltydse opvolger. Dié proses kan tussen vier en sewe maande duur.


http://www.sake24.com/iT-Sake/Telkom-ontken-uittog-skep-n-vakuum-20100717

POS GEPLAAS DEUR: KVB NUUSKANTOOR- W. KAAP

Terug na bo Go down
 
TELKOM HARDLOOP UIT HOOFBESTUURDERS UIT
Terug na bo 
Bladsy 1 van 1

Permissions in this forum:Jy mag nie onderwerpe in hierdie forum beantwoord nie.
 :: Ekonomiese Belange / Besigheids geleenthede-
Spring na: